Ermeloër kwalifiseer vir CrossFit-wêreldkampioenskap
Hy soek voortdurend nuwe uitdagings om sy liggaam tot die uiterstes toe te druk en te sien waartoe hy in staat is.

ERMELO – Willem van der Merwe (25) het onlangs gekwalifiseer om Suid-Afrika as ’n CrossFit-atleet in Boedapest te verteenwoordig en het die gemeenskap se hulp nodig om sy droom te bewaarheid.
Hy het in 2017 aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer en is sedertdien ’n toegewyde atleet wat sy passie vir sport uitleef.
“Ek het van kleins af ’n groot liefde vir sport gehad en het aan verskeie sportsoorte soos rugby, krieket, gholf, hokkie en atletiek deelgeneem,” het Van der Merwe gesê.

In 2015 het hy sy liefde vir CrossFit ontdek, ’n sport wat hom nie net fisies, maar ook geestelik uitgedaag het.
“Dit help om my kop skoon te kry wanneer die duiwel aan my deur kom klop en dit help my om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf.”
Hy geniet dit om sy liggaam tot die uiterstes toe te druk en te sien waartoe hy in staat is.
“Soos enige ander ding in die lewe was my CrossFit-reis nie sonder sy uitdagings nie. Die Here het my egter deur elke hindernis wat oor my pad gekom het gehelp en my geloof ook so versterk. Ek besef ook dat ek nie sou gewees het waar ek is as dit nie vir die talente en vermoëns was wat die Here vir my gegee het nie.”

Willem het in 2015 by IRA Gym in Ermelo met CrossFit begin en het tot en met sy matriekjaar volgehou om gereeld te oefen.
Sy filosofie was altyd: “’n Gesonde liggaam lei tot ’n gesonde gees.”
In 2021 het hy die geleentheid gekry om Amerika toe te gaan, en het tot in 2023 daar gebly. Met sy terugkeer het hy nie dadelik geweet wat hy wou doen nie, maar hy was steeds gemotiveer om hard te werk en sy passie vir sport in ’n loopbaan te omskep.
Lees die volledige berig in Hoëvelder.